‘n Meer filosofiese benadering tot ‘n mens se herstelwerk
Ek is 10 jaar oud. Dit is al na 10 in die aand. Die opmerking ‘gaan slaap‘ het nie die effek soos die skoen teen my kop gehad nie. Met hare wat rys op my nek vlug ek die donker trappe op na my kamer. Edward Grieg se “In the Hall of the Mountain King”, se laaste beweging speel af soos wat ek ‘n paar meter voor my bed vastrap en in een beweging in my bed spring, die een oog mik na die lig skakelaar, my ander ‘uil’ onder die donker bed waar ‘n trol lê en wag. Hy gaan my nie vannaand kry, solank ek die punt van my laken om my oor kan sit sal hy hom nie afbyt nie. Soos ‘n kat in ‘n wol kombers woel ek my in.
Ek is …. ouer. Dit is ook al 10 in die aand. Die opmerking ‘ek gaan slaap’ het nie ‘n effek op my nie want ek staar na die gaping tussen die bad en die silikon wat lostrek soos ‘n tektoniese plaat. Die donker gate-krake laat my dink of die trolle dalk verhuis het en nou sy kans afwag om my ore af te byt terwyl ek lê en prut soos slap pap in die bad. Ek is nie ‘n bad mens nie, ek stort, maar so nou en dan moet jy so bietjie week in stilte om die gerammel in jou kop te sorteer soos die rommel in die spaarkamer. ‘n Rustige bad gooi niks weg nie, dit pak die rommel net op ‘n ander manier weg sodat dit nuut lyk, in alle gevalle, psigosomaties of te nie, my vrou sê dit werk vir my.
Silikon. Die vet weet alleen ek het ‘n allergie daarteen. Die goed kan nie klou nie. Elke 3-4 jaar moet ‘n mens dit vevang. Nuwe silikon wat deur ‘n professionele mens aangewend is lyk mooi, maar ou silikon lyk soos gemufde nat brood. Ek het al verskeie pogings aangewend in my jonger avontuurlike dae om silikon op verskeie items en oppervlaktes aan te wend. Nodeloos om te sê was daar meer op my, my klere, mure en vloer, as op en in die onderwerp (sink, bad se rand, stort deur, ek het almal al probeer). Ek weet daar is boeke oor die onderwerp, en van boeke het ek baie, ‘n paar kaste vol. Maar die intrinsieke aanwendings tegnieke van silikon is nou nie iets wat ‘n mens in ‘n boek gaan opsoek nie. Jy kan dit google, maar dan is dit Amerikaans en hulle silikon word anders gespel. YouTube kan ook geraadpleeg word, maar dis net ‘n klomp social misfits en tegnologiese ‘Colombo’s’ wat wil aandag trek. Moet nie verder soek of in boeke kyk nie, ek het die oplossing gekry.
Die aanwending van silikon is eintlik nogal maklik. Jy het nodig; ‘n rol ‘masking tape‘ (nie ‘Duck Tape’ nie, want dis dieselfde as om vir jou muur ‘n Brazilian te gee, dit ruk al die verf af). Een of ander spatel of stompneus mes, ‘n klam lappie en natuurlik maar nie die minste nie, wit silikon. Die groot ding is, moenie bang wees om genoeg aan te wend nie. Sit eerder te veel as te min aan. Jy gaan in elk geval die meeste af vee in die proses.
Stap 1: Krap al die ou silikon af.
Stap 2: Was die oppervlakte mooi skoon met Windolene of so iets. Die masking tape sal dan beter plak. Die masking tape moet effens weg van die muur op die bad geplak word sodat ‘n ronde afwerking geskep kan word. So 5mm is goed genoeg.
Stap 3: Smeer die silikon in die hoek met die buis se punt wat skuins afgesny is. Enige oortollige silikon kan met ‘n stompneus mes egalig gemaak word. Die masking tape kan nou verwyder word. Wag ten minste 12 uur voordat die bad gebruik word. Meeste silikon sal verhard na 15 minute.
Viola, drink ‘n wyntjie of whiskie want jy is *&$%”! goed.
1 Comment
BRILJANT!